Mojito-gemarineerde hoender met geroosterde lemmetjies

image_pdfimage_print

Mojito-chicken

Genoeg vir: 4-6
Bereidingstyd: 15 minute
Gaarmaaktyd: 30 minute
Oondtemperatuur: 180 ºC

• 190 ml vars uitgedrukte lemmetjiesap
• 125 ml ligte rum
• 125 ml fyngekapte vars mentblare
• 125 ml heuning
• 15 ml olyfolie
• 4 hoenderdytjies en 4 boudjies
• 6 lemmetjies, middeldeur gesny
• vars mentblare vir garnering

1 Klop die vars uitgedrukte lemmetjiesap, 100 ml van die rum, 100 ml van die mentblare, die heuning en die olie saam. Sit die hoenderstukke in ’n bak en bedek dit met die marinade. Bedek die bak met kleefplastiek en laat die hoenderstukke vir omtrent vier uur in die yskas mariner – roer dit in dié tyd een of twee keer.

2 Sit die lemmetjiehalwes in ’n mengbak. Gooi die res van die rum daaroor en meng dit totdat dit oraloor bedek is. Laat dit vir een uur teen kamertemperatuur staan.

3 Skep die hoender en lemmetjies in ’n gesmeerde oondroosterpan. Rooster dit in ’n verhitte oond vir omtrent 30 minute of tot deurgaar. Sit die geroosterde hoender en lemmetjies op ’n groot opdienbak voor en garneer dit met vars mentblare.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *