Vark-lendestuk gevul met appel en spek

image_pdfimage_print

1899976_10150443542629944_4467118962099503684_n

Genoeg vir: 6
Bereidingstyd:
45 minute
Gaarmaaktyd:
2 uur
Oondtemperatuur:
170 °C

• 350 ml blokkies witbrood (sonder korsies)
• 50 ml botter
• 200 g strepiespek, gekap
• 2 preie, dun opgesny
• 1 klein Granny Smith-appel, geskil, klokhuisie verwyder en gekap
• 4 vars salieblare, plus ekstra vir garnering
• 1 groot eier, geklits
• 180 ml hoenderaftreksel
• mosterd en esdoringstroop
• 1,5-1,8 kg vark-lendestuk

1 Versprei die broodblokkies oor ’n bakplaat en rooster vir ’n paar minute tot goudbruin. Roer een of twee keer. Haal uit die oond uit en sit eenkant.

2 Verhit die botter en braai die gekapte spek vir ’n paar minute. Voeg die preie, appel en salie by en soteer tot die bestanddele sag is. Haal van die plaat af.

3 Sit die geroosterde brood in ’n groot bak en voeg die preiemengsel by. Roer liggies en voeg dan die eier by. Voeg omtrent die helfte van die aftreksel by sodat jy ’n klammerige vulsel het (voeg meer of minder by, soos nodig). Geur goed met sout en varsgemaalde swartpeper. Sit eenkant om heeltemal af te koel.

4 As die vleis gevlek is, moet jy die mosterd oor die binnekant smeer en die esdoringstroop daaroor drup. Anders sal jy ’n bietjie van elk by die vulsel moet meng. Smeer of stop die vleis met die vulsel en rol dit dan op.

5 Gebruik ’n skerp mes en sny die vel liggies in ’n diamantpatroon. Bind die vleis vas met tou as dit gevlek is. Geur met sout en sit in ’n oondpan. Gooi die res van die aftreksel in die oondpan. Bedek met aluminiumfoelie en rooster in die verhitte oond vir 60 minute. Haal die foelie af en rooster vir nog 45 tot 60 minute. As jy ’n vleistermometer het, is die vleis gaar as dit 160 °C is.

6 Skakel die roosterelement aan om die vel bros te braai en haal dit dan uit die oond uit. Laat dit vir 15 minute rus voor jy dit sny. Garneer met vars salieblare.

SLIM IDEE Anders kan jy jou slagter vra om ’n holte in die rol te sny. Dan kan jy die vulsel daarin skep en in die holte druk. Die braaistuk sal dan rond bly en maklik sny nadat dit gerooster is.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *